Hoe moet ek na my kind kyk as ek covid-19 het?
Mense wat COVID-19 het, moet hulle van ander isoleer sodat die virus nie na ander versprei nie. Jou gesondheidswerker sal jou sê vir hoeveel dae jy in isolasie moet wees. Bespreek dit met hulle as dit moontlik is om by die huis of in ʼn gesondheidsfasiliteit te isoleer. Isolasie beteken dat jy wegbly van ander mense en glad nie uitgaan nie.
As daar enigiemand anders in jou huishouding is (wat nie COVID-19 het nie) wat jou kan help, vra hulle om soveel as moontlik met die versorging van jou kinders te help.
As jy na jou kinders moet kyk terwyl jy COVID-19 het en in self-isolasie by die huis is:
Algemene versorging:
- Vermy dit soveel as moontlik om babas en kinders te soen. Gebruik oogkontak en glimlag en speel speletjies soos wegkruipertjie van ‘n veilige afstand af (2 meter of ten minste twee stoele tussen julle)
- Dra ‘n lapmasker wanneer jy in kontak met jou kind is. Moenie aan jou gesig raak nie.
- Moenie aan die oë of mond van jou baba of kind raak nie.
- Moenie op jou kind se gesig blaas nie.
- Maak seker dat jy jou eetgerei, handdoeke en gesigmasker apart hou van dié van jou kinders en moet dit nie saam met die res van die gesin s’n was nie.
- Nadat jy in ʼn papiersakdoekie of jou elmboog gehoes of genies het, moet jy die sakdoekie weggooi. Was jou hande onmiddellik met seep en water vir 20 sekondes.
- Was of ontsmet jou hande voor en nadat jy aan enigiets geraak het wat aan die baba behoort (soos ʼn speelding). .
Maaltye:
- Was jou hande vir 20 sekondes met seep en water voordat jy jou kinders se kos maak of vir hulle kos gee
- Vee alle oppervlakke waar jy kos voorberei af met seep en water of met verdunde bleikmiddel. Hou bleikmiddel buite die bereik van kinders. Dit kan baie giftig wees.
- Vir babas ouer as 6 maande kan jy etes vooruit voorberei om jou kind ten minste 5 keer per dag kos te gee
- Vir ouer kinders kan jy probeer om kos voor te berei sodat daar ten minste drie maaltye per dag beskikbaar is