Wat kan ek verwag as my kind in die hospitaal opgeneem moet word?
As jou kind siek is en in die hospitaal moet bly, sal die dokter ‘n depper van jou kind se neus en/of mond neem om te toets vir die virus wat COVID-19 veroorsaak. Dit is ongemaklik, maar gewoonlik nie pynlik nie. Die resultate is gewoonlik beskikbaar na 2-3 dae. Die verpleegsters en dokters wat na jou kind omsien, sal ekstra beskermende klere dra totdat die resultate van jou kind se toets bekend is. Party hospitale sal ook ‘n COVID-19 toets doen op die volwasse versorger/ouer wat by die kind in die hospitaal gaan bly. Dit is omdat sommige kinders en volwassenes die COVID-19-infeksie kan hê, maar geen simptome het nie. Afhangende daarvan of jou kind negatief of positief toets vir COVID-19, sal hy/sy in verskillende afdelings van die hospitaal opgeneem word.
Hoe kan ek my kind daarop voorberei as hy/sy in die hospitaal opgeneem moet word?
Jy kan help om jou kind voor te berei deur vir hom/haar te sê dat almal by die hospitaal maskers en soms ander beskermende klere sal dra om te keer dat die COVID-19-virus versprei. Jy kan vir jou kind sê dat hy/sy dalk ʼn paar toetse moet kry, soos die neusdepper en bloedtoetse, maar dat jy heeltyd by sal wees.
Wat mag ek saam met my neem en wat nie?
Bring asseblief julle lapmaskers, jou kind se Pad na Gesondheid-boekie, jou ID en selfoon. Gewoonlik verkies hospitale dat families nie ekstra komberse en klere vir die kind moet bring nie, aangesien die virus daarop kan wees.
Sal ek toegelaat word om by my kind te bly?
As jy in die laaste 2 weke nie kontak gehad het met mense met die COVID-19-infeksie nie en as jy op die oomblik nie simptome van die COVID-19-infeksie het nie, sal jy in die meeste hospitaalafdelings by jou kind kan bly, behalwe as jou kind in intensiewe sorg (ICU) is. As jy COVID-19-simptome het, of as jy in die laaste 10 dae positief getoets het vir COVID-19, sal jy nie by jou kind kan bly nie. Jy kan vra dat ʼn ander familielid wat gesond is in jou plek kan kom om by die kind in die hospitaal te bly.